Tuesday, 27 November 2018


Die Kankerswaard – vyf jaar later

Einde November 2018.

Ek het in Augustus aangekondig dat ek my NET kanker blog gaan staak, maar het al sovele versoeke gekry dat ek nie moet stop nie dat ek besluit het om daarmee aan te gaan. Ek is wel besig om die blog tot en met hierdie een in ‘n boek  te verwerk aangesien daar ook heelwat oorsese persone was wat ook gevra het dat ek moet aanhou, dat ek die boek in beide Afrikaans en Engels beskikbaar sal stel.

Die Engelse weergawe sal deur Amazon beskikbaar wees aangesien ek al vir baie jare van my boeke in eboek vorm daar wou bemark, maar het op die ou einde alles in beide Engels en Afrikaans gratis van my eie webtuiste af versprei. Die maand is juis ‘n groot mylpaal aangesien dit die eerste maand is waar indien ek die PDF artikels wat mense as alleen as afskrifte uithaal uit die totale, so net die volledige boeke se totaal, die eerste maal die duisend merk vir een maand oorskry. Dit is vir my nogal ‘n groot gebeurtenis.

Maar wat het sedert einde Augustus gebeur in ons lewe?

Ek het my nogal besig gehou met drie kalenders wat ek vir 2019 voorberei het. Daar was een vir ons vyftigjarige byeenkoms van die matrieks van 1968 van DF Malan Hoërskool van Crosby Johannesburg, maar kon ek self nie gaan nie want ek weet maar wat gebeur indien ek ‘n bietjie lank in ‘n motor sit, selfs as passasier. Die ander twee kalenders was een vir ons NET kanker mense van oor die wêreld wat alreeds meer as 500 van versprei is vanaf ons webtuiste in PDF formaat, en een wat borskanker uitbeeld. Dit is nou na aanleiding van Hettie se bilaterale mastektomie wat sy verlede jaar deur is. Gelukkig is hulle nou klaar en agter die rug so nou kan ek weer vorentoe kyk met wat ek myself mee gaan besig hou oor die volgende paar maande of dalk ses maande.

Daar is een artikel wat ek mee besig is wat ek maar weer baie skepties kyk na wat sekere mense vir die waarheid hou, en dan is daar die boek se verwerking.

Ons het ook so ‘n proeflopie gehou om te sien of Hettie en ek dalk by Esthee en Francois in Melbourne kon gaan kuier, en waar sy graag wou dat ons so halfpad in Singapore onmoet en my ‘n bietjie bederf deur na al hul inheemse orgideë te gaan kyk. Daarna wou sy ons na al die Melbourne plekke toe vat wat sy weet ons sou geniet want ons deel nogal baie van dieselfde belangstellings. Nou weet ek dit is ongelukkig nie moontlik nie en beoog sy nou maar om vroeg aanstaande jaar by ons te kom kuier soos in die verlede. Ek kon skaars in Bloemfontein die vliegtuig haal, al was ek op ‘n rolstoel, en het amper die hele week nodig gehad om te herstel net om weer terug te kom en die Saterdagoggend weer by die huis te wees. En nou sukkel ek nogsteeds en dit is al meer as twee weke later. Maar ons kon darem lekker kuier by Andre en Hester in Pretoria wat vir Hettie elke dag laat inkopies doen het. En eintlik is my gesondheid nie te sleg nie.

So ‘n mens kom maar nie agter hoe stadig jy “slegter” word nie, maar na hierdie trippie weet ek net dit is onmoontlik. Gelukkig is ons biometriese inligting agter die rug, en indien daar dalk skielik ‘n oplossing iewers kop uitsteek vir Net kanker, dan is dit darem een trippie minder.

En dan het Su-Hannie en haar hele gesin weggetrek van die plaas in Burgersdorp na Bloemfontein sodat sy haar klerkskap as prokureur kan voltooi. Sy het mos skielik besluit toe Theuns graad 0 toe is dat sy weer verder wil studeer en op 37 het sy haar LLB graad gekry. Baie trots op haar wat ma vir twee kinders moes wees, huisvrou by die huis en dan nog plaastannie ook so nou en dan wanneer daar geslag is en vrugte bewerk moes word. En so tussen in was sy nog vir ‘n ruk sekretaresse vir die ATKV en het sy die kompliment gekry dat ou Steve Hofmyer vir haar gesê het dat dit die lekkerste nagereg was wat hy nog ooit geëet het. Gelukkig het manlief se werk ook die trekspul waardeer want nou is hy darem ‘n paar ure nader aan sy kantoor in Pretoria. Sy sou haar klerkskap in Burgersdorp gedoen het maar dinge het anders uitgewerk. 

Gesondheid gewys het ek so ‘n bietjie aangeraak, maar dit is maar snaaks dat jy sien hoe die metastase na die vel versprei dat daar so ‘n paar knoppe onder die oë verskyn wat my bril gelukkig redelik verbloem, maar die op die haarlyn lyk asof ek masels het. Dan is die een wat na die skedel agter die regteroor my ‘n bietjie van ‘n harde tyd wou gee omdat my bril op hom gedruk het, stiller maar gelukkig kan jy die drukking met ‘n bietjie ingeneurs vaardighede omseil.

Die een ding wat ek maar redelik stil oor is is die Carcinoid krisisse wat ‘n mens beleef. Ongelukkig kan ek probeer om dit vir die buite wêreld verbloem, maar nie vir die kinders nie. Dit het Barney en Debbie verlede week eerstehands ervaar nadat hulle Donderdagaand by ons kom eet het en ek skielik net met alles gesukkel het. Ek dink hulle het maar ‘n bietjie geskrik maar dit is nou maar een van daardie gebeurtenisse wat jy nie ‘n pilletjie voor kan drink nie, en moet jy maar net deur dit werk totdat dit klaar is. Dit is nou diarieë, bloedruk en dan skielike “flushing” kry waar jy net hitte uitslaan van die tone tot die kop, en alles net rooi/pienk word. En dan val jy sommer oor jou eie voete nog ook. So nie iets om aan te beveel nie. En dan aanhoudend deesdae is die dat die gewas al hoe meer die mesenteriese slagaar se vloei belemmer dat ek baie kere per dag net met rooi hande sit, en indien ek staan dat die linker knieg amper heeltemal pers word omrede daar nie voldoende bloedvloei na die gedeeltes is nie.

Maar terwyl ek nog kan sal ek maar doen elke dag wat ek kan doen. Soos ek vroeër genoem het is daar skryfwerk wat voorlê en probeer ek nog elke dag die tuin so ‘n bietjie natgooi maar werk nou maar aan ‘n besproeingstelsel om dit makliker te maak. Ek dink die grootste vyand in enige siekte is jouself. Indien jy ingee en dat jy die siekte die oorhand laat kry, gaan jy lang boompies toe, maar indien jy nogsteeds voel soos toe jy as jong mens gevoel het en elke dag as ‘n uitdaging sien, kan jy aangaan. Ek weet daar is dalk baie mense wat nie met my gaan saamstem nie, maar dit is my uitkyk op die lewe. En dan geniet ek elke oomblik wat die HERE my gee om nog vir Hettie by my te hê wat ek kan liefhê en bederf, en dan mense met vrae oor die Bybel en die interpretasie daarvan te help. Gelukkig verduidelik die Bybel homself, so ek het verseker nie nodig om na ander mense se interpretasies te gebruik nie, alhoewel ek daarvan hou om van die ouer “kerkvaders” se sienings uitmekaar te trek. En moenie die heedendaagse sienings vergeet nie.

Met Barney en Debbie gaan dit goed aan en is hy onder baie minder druk as wat hy verlede jaar by sy werk gehad het. So dit help hom ook. Noudat hy ook sy eie plek het moet ek sê begin die liefde vir die plante en diere en die skepping al hoe meer by hom kopuitsteek, wat ek natuurlik baie geniet.
So op die punt sal ek maar ophou vir vandag en begin werk aan die ander goed op my lysie, of dalk ook aan goed wat nie op die lysie was toe ek dit in my kop saamgestel het nie. So ja, ek is nogsteeds half allergies om goed neer te skryf wat gedoen moet word en hou ek maar daarvan om op my geheue staat te maak. Dit het my tot nou toe gehelp, so hoekom nou verander. Behalwe natuurlik as Hettie my vra hoekom ek goed nog nie gedoen het nie wat ek belowe het ek sou doen.

Soos met al my ander skrywes wil ek graag afsluit met ‘n lied wat al baie jare oud is, maar nogsteeds vir my ‘n spesiaale plek in my hart het. Luister maar gerus daarna.