Saturday, 2 February 2019

Februarie 2019

En hier staan ons in ‘n nuwe jaar met nuwe uitdagings en aanpassings. Maar dit is waaroor ek my  boodskap vir die nuwe jaar geskryf het dat jy net ‘n normale jaar sal hê. Ons almal dink elke jaar dat daar sekere goed is wat ek graag wil doen en dalk beter wil doen as in die verlede, maar eintlik moet ons so lewe dat daar nie ‘n verskil is tussen gister en vandag nie. Die oomblik wat daar ‘n groot verskil is het ek of baie sleg gedoen die vorige jaar, of is daar werklik groot veranderings wat ek in my lewe gemaak het. 

So hoe gaan dit hier by ons? Daar is een woord wat dit baie goed opsom en dit is warm. In die sesde somer wat ons nou hier bly het ek nog nie sulke weer beleef nie. Dae en weke waar die temperatuur sukkel om onder 36 C in die dag te kom in Desember, en dan afkoel na so 25 of 26 C in die nag. En dan het ons die nuwe jaar begin met ‘n lekker bui reën toe ons sommer 17mm gekry het. Maar dit is ook sover die enigste reën vir die seisoen. So ek word half gedwing om my tuin nat te sprinkel want anders het ek verseker nie een plant of gras oor in die erf nie. Die hele Januarie het ons geen verdere reën gekry nie en het die temperatuur gesukkel om onder 40 grade te kom in die dag en 25 in die nag. 

En glo my met die wind wat ons hier kry moet jy maar elke stukkie grond probeer toekry of nat te kry anders is jou huis binne minute weer so vol stof asof jy weke lank nie afgestof het nie. Ek het nou gesien my enigste perske boom wat ek het wat so ‘n bietjie skadu gee vir die rose se takke binne het begin uitdroog en lyk die bas of dit soos houtskool is en die hout begin te kraak. Nou sy vervanging het ek darem ‘n skadu boom maar ek kan nie waag om hom uit te plant nie want dan gaan hy verseker nie oorleef nie. En daar kry ons skielik sommer 20mm reen die afgelope drie dae.

Gesondheid gewys is dit maar wisselvallig. Ek sukkel nou al vir die afgelope twee maande na ons besoek aan Pretoria om ons biometriese data te doen vir ons visums om Aussie toe te gaan en by Esthee te kuier, om weer in ‘n redelike voorspelbare siklus in te kom. Dit is of hardlywig en dan is ek so verstop dat winde nie eers wil uitkom nie, of dit is heeltemal na die ander kant toe en so ‘n bietjie oordrewe diarree. Die laaste is wel beter as die eerste want dan weet jy darem alles is oop en daar is nie iewers ‘n derm wat dalk deur die ou kanker verstop is nie.  

My grootste probleem is maar dat die gewas seker nou sy finale stadium bereik het en loop ek meeste van die tyd met 'n linker knie rond wat heeltemal koud is en so amper pers is. Dit is maar die gevolg van die gewas wat nou bloedsirkulasie na die onderlyf begin afsny, en is dit nogal moeilik om in die aand  op die bed te lê, dit is te warm om onder iets te lê, en dan vind jy dat die bloedsomloop na jou regterbeen afgesny word en dat jy net spelde en naalde (pins and needles) in jou been kry en dat hy heeltemal doodgaan. So dan word ek maar wakker en moet ek maar rondbeweeg totdat ek weer die aar so kan kry dat hy weer bloed na die onderlyf kan deurkry. Vir die wat so 'n bietjie mediese kennis het of van weet is dit die “superior mesentary artery” wat deur die gewas gaan wat nou begin om heeltemal toegedruk te word. Daar is glo 'n paar cowboy dokter wat ribbes breek en dan probeer om die gewas kleiner te maak of te verwyder, maar die slaagsyfer is maar laag. En dan net as jy dink jy het die bloedsomloop weer aan die gang dan is dit weer ‘n ander gedeelte in die onderlyf wat weer nie bloed kry nie. So waar ek in die verlede kon oë toemaak en slaap tot die volgende oggend, is dit nou aanhoudend wakker word en rondrol om net weer ‘n bietjie te slaap en dan weer sukkel met die bloedsomloop. Maar soos in die verlede is dit nou maar net weer ‘n nuwe normaal om aan gewoond te raak en dan is die Kaap weer Hollands. 

Wat Hettie aanbetref is sy baie goed twee jaar na haar bilaterale mastektomie, maar het fibromialgie kop uitgesteek by haar wat haar maar baie seer laat kry. Dit is baie moeilik vir haar om daarmee saam te lewe en probeer ons maar ook om die druk en gemoedstoestand reg te kry. Sy kry medikasie, maar dit help nie regtig vreeslik nie. En nou is dit maar eksperimenteer met wat vir haar help.

Gelukkig verwag nie een van ons dat die ander persoon alles moet doen nie, so ons spring maar in en doen wat jy kan doen elke dag. Ek het nou al gewoond geraak daaraan dat wanneer ek ‘n vleisie braai ek sommer genoeg doen vir ‘n paar etes, of as ek ‘n pot maak dan sommer ‘n nommer 3 vol te maak vir ons twee. So dit beteken gelukkig dat daar baie aande is waar ek eers so vyf minute voor ons eet die kos eers regkry, want dit is alreeds gaar en het ek dit al vroeg oggend uitgehaal vir vanaand se ete. En wanneer jy dalk pasta wil maak neem dit in elk geval net 8 minute om die pasta gaar te kry, so dit is nie of ek ure voor die stoof moet spandeer nie. En nou moet julle net onthou dat jy nie sommer net ‘n pizza kan bestel en gaan haal nie. Nee jy moet al vandag bestel indien jy more een wil hê. 

Met die kinders gaan dit redelik goed. Su-Hannie is baie besig in Bloemfontein om haar klerkskap klaar te maak as prokureur nadat sy verlede jaar haar LLB geklaar gemaak het, maar dit gebeur maar wanneer jy eers op 34 jarige ouderdom besluit dit is wat jy wil doen. So die kinders pas nou aan by die skool want hulle is gewoond aan die plattelandse skool en nou skielik is dit ‘n baie groot skool. Ek sien juis gister dat Theuns het besluit hy wil by die skaakklub aansluit en ek kan al sien hoe hy die ander kinders gaan verras, en Jana het besluit om verder met haar viool aan te gaan. Sy speel dit al so goed en hierdie oupa en ouma is super trots op hulle. Bani geniet nou die lekker vinnige internet vir sy werk want met ‘n hoë spoed fiber internet is dit verseker beter as ‘n 2gb lyn wat hy op die plaas gehad het. Esthee gaan aan maar sy kan ook nie wag om te kom kuier nie. Gelukkig het sy darem ‘n amper twee jarige wat haar besig hou. Dit was maar vir haar en ons ‘n groot aanpassing toe ons besef het ek sal nie so ‘n lang vlug kan hanteer nie. En Barney en Debbie is baie gelukkig en gaan maar net elke dag aan. 

Met my skrywes sukkel ek maar so ‘n bietjie want die ou kop wil nie bly by dit waar hy moet wees nie, en vind ek dat ek iets begin en dan eers weer drie weke later dalk net weer deurlees sonder om iets verder te skryf. So byvoorbeeld het ek skielik een dag onthou dat ek nie verlede week se artikel op facebook gesit het nie en sal dit maar later doen, en dan het ek so 'n klein boekie van so om en by 26 bladsye geskryf in November en Desember, dit op Nuwejaarsdag op my webtuiste gelaai, maar nooit eers enige skakel daarna of op facebook of op my eie webtuiste gesit het nie. Ek kon onthou ek het iets geskryf, maar dit is al wat ek kon onthou. So die skakel na die boek is  http://www.shama.org.za/boeke/Afr%20Pupose%20driven.pdf  

So of ek raak oud, of iets anders is aan die gang. Met die reën die afgelope twee dae het my grasperk ook skielik van halfdood na lewe verander en sal ek maar Maandag oggend gou die lang blare van die gras moet afsny vir die eerste keer hierdie seisoen sodat die gras net weer kan onthou dit moet eintlik rank en nie lang blare maak nie. 

Dan het ons ‘n lekker ete gehad saam met die paartjie wat ek so ‘n rukkie terug getrou het, en dan het ek Sondag ook sommer ‘n doopdiens gehou waar ek die voorreg gehad het om twee persone se tog vir hulle te help om te begin van Egipte waar hulle onder die Farao (Satan) se mag was na Kanaän toe, waar hulle nou onder die mag van die HERE is en Satan en sy trawante se mag in die doopwater verbreek is. Dit is ook hand aan hand wat ek sover die jaar op my bedienings blad op Facebook begin deel het. 

So dit is maar ons nuus van die Karoo af. 

My lied vir vandag is maar een wat naby my hart is wat ‘n mens maar net moet weet dat die HERE altyd daar is vir ons, veral met die huidige gesondheid en dan natuurlik om nie eers te praat van die politieke toestand in ons land nie.