Thursday, 11 April 2019

April 2019 Wat maak ons deesdae?

En hier trek ons sommer ‘n hele paar maande later as my vorige skrywe. Daar is maar baie redes daarvoor en ek dink die grootste een is dat ek my lus vir skryf verloor het. Ek het so nou en dan ‘n stuk gedeel op my bediening se Facebook, maar meeste van die tyd was die artikel reeds lank terug geskryf. Die video was nou wel onlangs opgeneem, en ek glo ek sal gedurende die maand dalk weer ‘n video oplaai en ook dalk ‘n bietjie verder gaan met die skrywes aldaar. Dit is immers net maar ‘n skakel plaas na waar die artikel op my webtuiste is, maar partykeer is ek net nie reg daarvoor nie. Die video’s sal ek doen sodra ek onthou waaroor dit moes gaan. Ek het nogal ‘n nota gemaak op of my foon, of my tablet, of my skoot rekenaar. Nou kry ek nie die lêer opgespoor nie en is dit nogal frustrerend.

So wat het gebeur sedert die vorige skrywe? Toe ek so deurlees wat ek die vorige keer geplaas het, het daar nie veel verander nie. Die ou aar is nog steeds besig om toe gedruk te word, en het die kinders besluit toe ons nou verlede maand so ‘n bietjie in Bloemfontein gaan kuier het dat pa ‘n rystoel nodig het. Dit kon ek nou nie so mooi verstaan waarom Su-Hannie die bal aan die rol gesit het daarvoor nie, want ek het dit maar twee keer gebruik in die drie weke wat ons daar was. Die eenkeer om saam met hulle kwekery toe te gaan om so ‘n paar mooi plante te kry om die tuin weer lewe te laat kry, en eenkeer wat Hettie besluit het dat ek met my kierie ‘n bietjie stadig is om by die winkel te kom. Met ‘n motor soontoe is dit nou weer sukkel om parkering te kry want ek het nie ‘n rolstoel teken wat ek kan rondswaai nie, en mense word nogal opgewonde wanneer jy op die rolstoel vriendelike plekke stop en dan met ‘n kierie uitklim. En dit neem langer om by die sentrum te kom met al die hekke wat moet oopsluit, wag vir die verkeer om in di9e dubbelpad te kom, en dan is daar nog ‘n verkeerslig ook op pad. Teen die tyd wat jy weer in die kar is om te ry het ek al klaar tot daar geloop. En dan het ek rede om ‘n koffie of iets te geniet om eers te rus by die sentrum voordat jy by die winkels kan ingaan. Die sentrum is te na om te ry aangesien Hettie dit in vier minute kan haal wanneer sy alleen loop, maar wanneer ek saam loop seker so agt na tien minute want ek is maar bietjie lighoofdig en verloor maklik my balans aangesien die regteroor heeltemal doof is na die kanker hom beetgekry het, en my bloeddruk nooit weet wat hy wil wees nie. Enige iets tussen 214/120 tot 78/58 is maar die syfers wat hy op die skerm vir my wys, met ‘n pols so tussen 91 en 78, wat ek dink heel aanvaarbaar is. Na die eenkeer met die rolstoel sentrum toe het ons maar albei besluit met die toestand van die sypaadjies en die ongeduldigheid van die motoriste is die kierie opset die beste. Eers toe ek nou weer sukkel met die been wat nie bloed kry nie sien ek eers die nodigheid vir die rystoel in. Wanneer die been so begin doodgaan is dit baie makliker om te ry as om te loop en veral hier by die huis waar die winkels almal binne 200 meter van die huis af is.

Dit was nou regtig lekker ontspannend en kon ons net so ‘n bietjie rustig verkeer, veral toe ons sien dat die klomp van die swart woonbuurt begin om konsternasie te veroorsaak omdat hulle werk wil kry by ‘n kontrakteur wat met sy span werkers by die steengroef klip uithaal vir een van die projekte op die dorp. Hy moet nou sy werkers afbetaal en plaaslike werkers aanstel. Hy het toe maar net sy goed gevat en geloop. Die ander rede was dat die munisipaliteit besig is om ons water op ‘n hoër kop te stoor en al die ou pype wil vervang aangesien daar te veel lekkasies is. Nou wil die klomp want geen idee het hoe om dit te doen nie, die werk self doen en bestuur. Die probleem is dat sover ek kon vasstel daar alreeds van die geld verdwyn het nog voor die projek kon begin. Hulle wil nou glo Maandag die 15de weer al die paaie toemaak omdat daar nog nie aan hul eise voldoen is nie. Gelukkig bly ons darem een straat weg van die pad wat deur gaan na die ander dorpe om ons.

Terug by die huis maak dit natuurlik die mense se koppe deurmekaar. Hulle sien my sonder ‘n kierie rondloop tussen die rose om ou knoppe uit te pluk, stoot die grassnyer rond wanneer ek gras sny en dan eers twee dae moet ek rus voor ek weer iets kan doen, dan later loop ek met ‘n kierie terwyl ek net so ‘n draai tussen die blomme loop en dan weer op ‘n rolstoel. Maar dit is nogal amusant vir my om die mense se reaksies dop te hou.

Verder sukkel ek maar net met die een aspek van hierdie ou onbekende kanker en dit is bloeddruk. Dit het terwyl ons by die kinders was en ek lekker kon ontspan op een dag gewissel van 130/72 in die oggend wat ek dink enige dokter sal tevrede stel, en dan voel jy bietjie duiselig en staan jou bloeddruk by 208/121 net om 20 minute later 156/96 te wees. Die laagste was 78/58. Ek neem nou maar elke dag my bloeddruk en wissel dit maar van baie aanvaarbaar tot kommerwekkend. Maar ek loop al vir soveel jare daarmee, maar is tog moeilik om te verduidelik en die oorsaak daarvoor te kry. Ek weet dit is maar deel van die siekte, maar ek wil nie graag gaan krap wat dalk beteken dat hulle ‘n hartklep moet vervang nie, en ek weet nie of ek kans sien vir daardie roete nie. Daar is ‘n hele paar redes daarvoor, maar miskien is dit beter om nie te weet nie.

Een van die grootste probleme wat die gewas maar nou veroorsaak is dat die regterbeen die meeste van die probleme kry. Dan is dit dat hy half lam word en jy nie oplet waar die been heen gaan nie wat maar maak dat jy so ‘n bietjie dronk voorkom, en dan kry hy steke soos wanneer jy verkeerd gesit het en hy dood gegaan het, soos die Engelse dit noem “pins and needles”.

Terwyl ons in Bloemfontein was en die eerste paar dae by die huis was dit vir my moeilik om rystoel affêre te aanvaar want volgens my was dit nie nodig nie. Ek het dan so goed met die loop en kierie reggekom. Maar toe tref dit my tussen die oë toe ek skielik voel ek sukkel om langer as twee minute stil te staan want dan wil die ou regterbeen net “doodgaan”. So nou het ek gesien dat ek maar net moet wag, die rede sal wel uitkom en het5 ook soos ek vroeër genoem het, en daaroor is maar net te dankbaar dat dit wel gebeur het. Dit maak dit ook natuurlik vir my moontlik om meer saam met Hettie winkels toe te gaan want nou kan ek lekker ry en nie so moeg word nie.

Dan het ons ook nogal baie reën gekry terwyl ons nie hier was nie. Die een dag was dit glo so 75mm binne 20 minute. Gelukkig het ons huis die water so net net gemis, maar my buurman moes 'n muur om sy agterdeur bou om die water uit te hou. Die eerste storm het so 5mm water in sy kombuis gelos, en toe het hy eers net 'n steen hoogte muur gebou wat hy nou maar wil opvul dat dit basies 'n stoep is, maar toe met die tweede storm het die water toe oor sy muur gestroom en weer in sy nuwe kombuis in. So al sy kombuiskaste se hout het skade aan. Net vir die wat nie weet nie in ons dorp is die straat maar ook die stormwater afvoer stelsel en het ons 'n bruggie om van die pad na ons erf te gaan. Jare gelede het daar glo redelik gereeld water in die huis gekom van die straat af, maar nou het die mense so oor die jare 'n muurtjie gebou en toe rond gemaak sodat jy darem daaroor kan loop en dit hou die water uit. Maar diekeer was dit volgens vriende van ons ook maar net net. Ons spot altyd ons bly nie in Presidentstraat nie, maar in Presidentrivier in die reen seisoen. En dan het ons nou skielik herfs waar ek maar elke dag amper 'n langbroek aanhet saam met 'n langmou hemp of selfs 'n baadjie of trui.

So dit is omtrent alles wat met ons aangegaan het die afgelope paar maande. Een ding wat ek vergeet het om te noem is dat daar nogal baie dae verbygaan waar jy in die aand wonder of jy ooit iets gedoen het. Maar dit is ook nodig om rustig te verkeer. So tot volgende keer, mooi loop.
So om mee af te sluit wil ek maar weer een van my gunsteling sangers se lied deel. Die een kom van Kris Kristofferson. https://www.youtube.com/watch?v=1tA7E7pbUws