Na ‘n baie lang tyd het ek besluit om vandag weer so ‘n bietjie inligting deur te gee van hoe dit met ons gaan en wat ons dink gaan dalk in die nabye toekoms gaan gebeur.
Ek weet Su-Hannie n Bani is Bloem toe, en het so ‘n jaar en paar maande daarna weer in ‘n nuwe huis vir hulle getrek ook in Dan Pienaar, veral vir die kinders se skool. Jana het baie goed aangepas en in haar laaste jaar die prys gekry vir die beste Engels in die laerskool as tweede taal. Theuns het maar so ‘n paar aanpassings probleme gehad maar is uiteindelik uitgesort. So Jana het verlede jaar begin met hoërskool en doen maar soos gewoonlik baie goed.
Su-Hannie het klaar gestudeer en haar klerkskap gedoen en is nou ‘n volwaardige prokureur. Vir iemand om op 34 LLB te begin en te eindig binne die top 7% spreek boekdele. En elke keer wanneer sy moes eksamen skryf was dit of ek, of Hettie, of van Bani se mense wat siek was of aandag nodig gehad het. So is haar skoonma verlede jaar ‘n week voor haar finale eksamen aan ‘n kombinasie van kanker en beroerte oorlede.
Dit was tydens die naweek wat hulle net besluit het ek en Hettie kan nie meer in ons plekkie in Steynsburg bly nie, want my gesondheid het ook maar sy tol op my liggaam begin wys. Ons is net aangesê om ‘n koper vir die huis te kry, terwyl hulle dan een van hul huurders wat op die erf langs hulle huis bly, kennis sal gee sodat ons daar kan gaan bly. Die erf is sonder munisipale opname in twee verdeel met hulle huis op die een deel, en dan ‘n dubbel verdieping studente woonstel op die ander gedeelte van die erf. So elke plek funksioneer apart en kan dit net sowel oorkant die straat was of soos dit nou is, hul bure is. Gelukkig die huurder bo is besig met haar laaste jaar klerkskap vir haar CA, so sy werk voltyds en moet nogsteeds haar STR afhandel.
So dit was tot so November laasjaar die situasie. Ons was gelukkig en het sommer binne twee weke die plek verkoop aan ‘n kontant koper en is dit maar net die uitbetaling van ‘n pensioen wat ons sake so ‘n bietjie uitrek. Maar die ou NETkanker het maar sy gang gegaan en het ek meeste van dit wat verkeerd gegaan het aan die kanker toegeskryf het. Dit was nou tot so twee weke gelede.
Ons hou daarvan om sekere programme, veral Amerikaanse ‘reality shows” te kyk en het ek altyd gesorg dat ons elke aand kon kyk wat die vorige aand in Amerika uitgesaai is, of anders het ons Neflix of een of ander program op die internet gekyk. Soos julle daarvan kan aflei kyk ons nie juis TV nie, maar is Hettie maar baie op haar Ipad en youtube, en ek ook maar op dit wat my intereseer.
Ons het toe die huis met meeste meubels ingesluit verkoop want die gedeelte waarna ons gaan het nie ‘n 8x6 meter werkskamer nie, nie ‘n tweede slaapkamer waar jy met gemak ‘n queen grote bed kan sit vir gaste nie, en ek het gedag nie so ‘n groot tuin nie. Nou het ek wel uitgevind dat ons maar as hoofde van tuindienste aangestel is, en het Esthee al die pad van Melbourne al klaar begin deur sommer ons hier te verwelkom met 7 rose wat vroulief seker Vrydag sal moet help plant in Su-Hannie se tuin. Gelukkig is daar een roos wat ek nie seker van is of ek ‘n steggie aan die groei het nie of nie tussen die sewe, en is dit een van die mooiste en geurigste rose wat daar is, ‘n double delight.
Maar toe verander goed net te vinnig. Terwyl ek nou besig is om steggies aan die groei te kry van my 50+ rose om in potte te groei om ons blyplek en natuurlik ook vir die kinders se tuin, het ek opgelet dat my enkels begin seer raak en opswel en ek meeste oggende sukkel om iets te doen totdat ek regop is voor die pyn in die buik en rug tot bedaar gekom het.
En so het ek twee weke gelede ons “TV”, ‘n redelike groot rekenaar skerm soos die gewoonte maar is, by die onderste kant van die bed op gestel, gesorg dat alles reg is en het ons begin TV kyk. My ou maag het gemaak soos gewoonlik my troon toe gejaag waar ek ‘n groot lawaai gemaak het, en dan is ek weer terug kamer toe. Net voor die einde van die laaste program was dit weer die geval en soos enige goeie rekenaar ou weet is jou toue maar ‘n bietjie los op die grond of dalk so ‘n 10cm in die lug, en toe hak my voet vas en ek slaat neer. Ongelukkig is daar so ‘n 8cm trappie af na ons kamer toe en dit is toe waarop ek te lande kom. Dit was seer maar ek is mos ‘n ou wat redelike pyn kan verdra, en so het ek maar aangegaan soos gewoonlik. Die Saterdag voel ek toe so ‘n bietjie seer en ek moes Hettie belowe dat ek vir Su-Hannie sal laat weetindien ek nie beter voel nie. Ek het besluit om maar redelik rustig op die bed deur te bring die Saterdag en het alles sonder probleme verby gegaan. Hettie het met Barney gereel dat hy die Maandag maar by my sal kom kuier want sy moes Cradock toe saam met vriende. En toe gebeur dit weer. Ek het nie lekker gevoel om alleen op te staan nie en het Hettie probeer gebruik as stut net dat ek iets het om aan vas te hou terwyl ek opstaan. En skielik is dit asof ek nie ‘n linker heup, been, of voet het nie, en slaan ek neer tussen die bed en bedkassie voor my kant van die bed. My linker tone word sommer heeltemal in verkeerde rigting maak buig, en toe voel ek my rug is nie lekker nie. Ek het Hettie belowe dat ek Bloem toe sal gaan indien ek nie Dinsdag beter gevoel het nie, maar toe ek my oë uitvee hier 3 uur Maandag middag, is ons oppad Bloem toe want Hettie het net besluit dat sy my nie nog verder geleentheid wou gee om nog verder seer te kry nie. Ek was nie seker of dit heup, tone, of dalk die knie was wat seer gekry het nie, maar na so ‘n paar xstrale waar die persoon iets gesien het, vind ek uit dat my rug in twee stukke is.
Ek het na ‘n kar ongelukin 1993 ook my rug seergemaak en moes hulle uiteindelik die laaste werwels van L1 tot L5 een maak, en met my val het ek die stuk tussen L1 en L2 van mekaar afgebreek. Maar ek moet maar wag totdat ek by ‘n neuroloog kan uitkom, want natuurlik in my situasie is daar twee goed wat uitgesluit is van alle medies, en dit is kanker omdat ek my eerste ontmoeting al in 1986 gehad het, en my rug want die fusie is al in 1993 gedoen. So ek is maar aangewese op staats instellings om te help. Sover moet ek sêdat ek het swak diens al gehad, maar meeste kere goeie diens. Hierdie is nou nie een van die beste kere nie.
So met tyd op hande en met my wat wag om more die neurochirurg te sien het Su-Hannie ons saam met haar winkel toe gevat want die rystoel pas baie makliker agter in die bakkie as in haar vinnige Fiesta. En daar in die parkeer gebied is die linker kant net weer afwesig sonder kennisgewing, of soos in goeie militere taal awol, en gelukkig vang Su-Hannie my voor ek die grond vol ontmoet. Groot geskrik maar net so ‘n ou paar blou kolle by, en nou wonder ek maar tog of die linker tone nie gebreek is nie.
En nou moet ek iets by vertel wat seker baie vroeër al gedoen moes word, en dit is dat ek geweet het dat ek RA(Reumatoid Arthritis) ook het, maar dit het ek beperk tot hande wat ‘n bietjie sukkel, maar nou lyk dit of baie van dit wat ek gedink het NET gebaseer was, eintlik deur die RA veroorsaak was. So Andre daar in Portland, miskien moet ek maar meer leer van RA en NET vir jou. Wat ek wel geleer het by van die videos wat ek maar by CCF(Carcinoid Cancer Foundation) uitgevind het, is dat die klomp in LA ‘n vorm het waar jy elke ding kan track van emosies tot fisiese data soos hoeveel keer jy flush of wat ook al per dag, uur ens. Wat ek wel in een van hul videos geleer het is dat dit onmoontlik is om NETkanker te hê, sonder om ook RA te hê, en dan nogal in ‘n redelike ernstige graad.
So nou wag ek maar tot more om uit te vind wat hulle strategie is, of hulle my daar gaan hou of oorplaas na waar hulle toegerus is vir ‘n Carcinoid krises of nie. Vir my is dit maar dieselfde. Ek het al vyf of ses groot operasies deurgegaan sonder ‘n krises so ek voel maar dat hulle sommer al more kan opereer dat ek net weer kan lê, en nie net op een sy in een posisie nie. Ek is nogal moeg om vir drie of vier ure wakker te lê of te kom uitstrek in die tv kamer met my laptop op die skoot en of te probeer skryf, of videos oor my stryd te kyk en wat ek kan doen. Ek dink ek het net so ‘n klein breuk nodig om net weer sonder pyn en moegheid en nutteloosheid te kan wees.
Byvoegsel 30Augustus 2021
Ek moet vandag bieg dat hierdie siektes
van my met my woer woer gespeel het die afgelope klompie jare. Na die eerste
Carcinoid aanval in Jeffreysbaai wat vir my beteken het dat ek maar my werk
moes los en begin om af te tree, het die ou kanker my nogal oorheers aangesien
ek geweet het hoe ernstig die tipe kanker kan wees en het ek enige verswakking
maar daaraan toegeskryf het. Maar nou moet ek erken dat daar iets anders is wat
meer slu is as die kanker en jou kan laat glo dat dit die kanker is sonder dat
jy enigsins iets anders verwag. Al staan dit in jou verslae van ander
spesialiste kyk jy dit mis want jy wil weet hoe hierdie kanker versprei en waar
dit oral is. Ek het hier ‘n stukkie ingelas wat ek al vyf jaar gelede na ‘n ondersoek
gekry het in die verslag maar my houding was maar net ek is bewus daarvan maar
dit kan ons later oor besluit wat om te doen. Die simptome en gevolge van die
siekte het ek aan die NETkanker toegeskryf.
In die verslag word daar telkens
verwys na “degenerative changes of the spine”. So daar is verwys dat die rug se
beenstruktuur besig is om te verander en dat daar aandag aan bestee moes word.
Ek moet sê ek het die hele tyd maar gaan kyk waar uitsaaiings was maar nie veel
aandag gegee aan die osteoporose nie aangesien ek geweet het die ou been
struktuur is maar nie baie goed nie. Wat ek wel oor gepla was so nou en dan was
so ‘n steek hier gelyk met die regter nier en dat my voetsool van albei maar meestal
op die regter voet so nou en “geslaap” het. Ek het die maar afgeskryf as die
gewas wat deur die gedeelte van die gewas toegeskryf wat besig is om my bloedtoevoer
af te sny. So nie gedink dat dit die 25 jaar + se rug fusie is wat besig is om
uitmekaar te val nie. So dit het gebeur met my val vroeër die jaar. Maar wat
gebeur het hier is dat die gewas saam met die aar na die ruggraat toe versprei
het en toe vir hom ‘n nuwe huisie gebou so om die vorige fusie van die L en S
reeks werwels.
So hierdie slu osteoporose was toe al die tyd die rede dat
ek minder beweeg saam was, dat ek toe maar later met ‘n kierie geloop het en
dit vir my moeilik was om op sekere tipe stoele te sit, veral die wat so lekker
laag is. Wanneer ek daarop gaan sit moet Hettie of iemand maar net anker speel
dat ek myself weer mooi regop kan staan.
So ek maak nie verskoning vir feite wat ek dalk verkeerd het
in my blog nie, maar het nie geweet dat osteoporose ook so kan wegkruip nie.
So nou moet ons maar soek om ‘n uitweg te kry om die kussing
wat die senuwees vasknyp reg te kry sonder om een van die hoof bloedvate raak
te sny. Dit is nou September se missie.
Maar dan weet ek gelukkig waar ek heengaan, en dit laat my weer kans sien om te skryf en net deur te druk tot die volgende krises.
So luister maar na Guy Penrod en hopelik sal jy my siening verstaan.
https://www.youtube.com/watch?v=LB3un06HUSY