Ek onthou die dae toe ek
elke week, en later maand, en nog later so elke nou en dan ‘n opsomming geplaas
het van wat met my gesondheid aangaan, en hoe hierdie ou snaakse kanker my lewe
beïnvloed het.
En toe het selfs ek moeg
geraak vir die ou storie en opgehou daarmee. Ek het so nou en dan dalk iets
genoem maar nooit juis iets weer intens daaroor geplaas nie. Nou met die begin
van ‘n nuwe jaar, en ja die helfte van Januarie is al klaar weer verby, het ek
gedink dat ek net weer so ‘n opsomming moet plaas en net weer almal opdateer
wat aangaan in my en Hettie se lewens en natuurlik, met hierdie snaakse kanker
en sy gevolge.
Hierdie gedeelte beskryf
seker die laaste jaar of twee se tyd, en al die goed wat maar ‘n man se kop kan
deurmekaar maak.
So drie jaar terug het ons
jongste dogter besluit om haar LLB te voltooi en moes hulle maar die plaas
vaarwel roep en Bloemfontein toe trek sodat sy haar klerkskap kon voltooi. Sy
het eers op 34 jarige leeftyd begin met haar LLB toe die kinders albei skool
toe is. Vir my skoonseun was dit half moeilik alhoewel hy eintlik maar net na
werkstyd en naweke kon boer en sy pa het maar aangegaan met die boerdery,
aangesien hy maar heeldag voor die rekenaar sit en werk aan implementering van
‘n baie groot instandhouding stelsel, en hy ook maar elke nou en dan vir ‘n
week of wat kliënte toe moes gaan vir implementering, opleiding gee en goggas
gaan soek het wat maar iewers in die stelsel ingekruip het. So vir hom is dit
tot vandag toe so dat hy van die huis af werk en net so elke nou en dan
verdwyn. Nou moet ek byvoeg die afgelope jaar was dit maar baie min gewees.
In elk geval, wat hulle al twee
ons goed laat verstaan het is dat indien my gesondheid verswak ek maar net sal
moet huis verkoop en nader trek. So toe hulle ‘n huis koop in Bloemfontein moes
die huis ‘n woonstel vir oupa en ouma hê. Hulle het toe so gedoen en toe ‘n
plek gekry waar dit basies twee eiendomme is aangesien daar slegs een hek is
tussen hulle tuin en ons tuin wat goed weggesteek is en ons regtig nog steeds
apart kan lewe. So daar is nie ‘n elke dag se koffie drink of saam eet nie, en
is daar twee woonstelle, een bo en ons s’n onder op grondvlak.
Nou kan ek eintlik begin.
Oktober 2020 het so ‘n regte
verandering in ons almal se lewens gehad. Dit wat ek ervaar het was dat die
onderste aorta se bloedvloei beperk word deur die gewas wat om hom is, en dat
dit my onderlyf regtig maak dat daar tye is waar my bene en voete koud geraak
het, en ons gevoel het dat ek besig is om maar te moet klaarmaak met die
onderlyf aangesien dié so elke nou en dan basies gevoel het of dit “dood” was.
Ek het toe al geruime tyd maar my kierie gebruik om my mooi stabiel te hou
selfs al het ek net die tuinslang gevat en my roostuin te gaan natgooi. Dan het
ek sommer die ou kierie gebruik om ‘n groot gedeelte van my gewig ook te dra.
En bloed druk was baie hoog om die bloed deur die een gewas na die onderlyf te
kry. Net vir die wat dalk wonder, die gewas kan nie verwyder word nie want die
onderste aorta is omring deur die gewas, so met vertakkings van die aorta
en binne die gewas, is daar min dokters
wat daar sal probeer sny. Dit het ek al 1995 gehoor toe hulle die kanker ontdek
het dat ek maar sal moet leer om saam met die gewas te leef. Hulle het chemo
terapie probeer wat almal gedink het dat dit redelik geslaagd was. So ek het
maar normaal met my lewe aangegaan. Sien maar my agtergrond geskiedenis
hier.
Skoonseun se ma het toe die
een Saterdag ‘n enorme beroerte gehad en het haar dogter/ambulans met haar
deurgejaag Bloemfontein toe om te kyk of hulle kon help. Sy was maar voltyds
gekoppel aan suurstof, hart/long masjien en alles om te kyk of sy weer haar
bewussyn sou herwin en het die kinders almal kom kyk hoe dit met hulle ma gaan,
en het skoonseun en ons dogter maar elke dag geroteer om vir ‘n uur of wat by
haar te kuier, te lees en te bid. Na ek dink twee weke het almal besluit om die
masjiene af te skakel en was dit haar einde.
Die begrafnis was op
Burgersdorp, maar as gevolg van COVID, kon slegs 50 mense die begrafnis bywoon.
Ek en Hettie was verbaas dat die kinders besluit het dat ons ook kon gaan maar die
hele familie het gevoel dat ons moes kom omdat ons maar baie tyd op die plaas
spandeer het en gereeld kontak met almal gehad het al was daar twee groot huise
en ons mekaar partykeer nie eers gesien het terwyl ons daar gaan kuier het nie.
Ek en Hettie het besluit dat
wanneer ons dogter ons kom haal vir die begrafnis, ons die Bloemfontein storie
wou aanraak sodat hulle maar moes begin dink daaraan dat ek baie meer mediese
aandag nodig het as wat ek op ons ou dorpie sonder ‘n privaat dokter kon kry.
Die begrafnis het baie goed
afgeloop en net die regtig naby familie, kinders, haar suster en ons het weer
op die plaas bymekaar gekom. Ons is toe ook huis toe met die wete dat die
kinders daaroor sou dink. Skoonseun moet jy nie skielik met nuwe goed oorval
nie en ons het verwag dat hulle dit so oor die volgende maand sal begin aanraak
en dan dalk Kersfees wanneer hulle by ons kom eet, ons daaroor kan gesels.
Wel duidelik het die HERE
ander gedagtes gehad. Toe die kinders by die plaas uitry later daardie middag
was skoonseun se eerste woorde jou ma en pa moet maar hul huis verkoop en
Bloemfontein toe trek. Hulle sal die mense in die onderste woonstel kennis gee
sodra ons huis verkoop is en dan moet ons kom. Ons dogter het ons sommer uit
die kar geskakel om ons te laat weet, en het ek maar aan die werk gespring
daarmee. Ek het immers na ek te “oud” geword het vir die rekenaar bedryf op 49,
maar ander rigtings ingeslaan en as beide eiendoms agent en finansiële adviseur
gekwalifiseer, en dan so ‘n kort sukses met my eie sagteware maatskappy gehad.
Ongelukkig vir my was die skrif aan die muur want ek was te oud, te blank, en
te manlik om in die nuwe Suid Afrika met meeste staat en groter besighede
besigheid te doen en het ek maar verder gegaan as finansiële adviseur. So ek kon
darem ons huis in Steynsburg, waar meeste huise so ‘n jaar of meer vat om te
verkoop, ons huis binne 4 weke verkoop.
En toe begin die gewag vir
die geld om te voorskyn te kom aangesien die een sussie die geld wou kry want
sy het glo dit verdien. Gelukkig het die pensioenfonds met so ‘n bietjie druk
van ‘n finansiële adviseur (myself) die regte besluite geneem en ons darem op
skrif die wete gehad het dat die huis verkoop was.
Met my ou siekte was dit
maar elke dag dieselfde as die vorige en het ek maar net uitgehou totdat ek in
Bloemfontein kon kom sodat iemand iets kon doen vir my.
Hier begin Februarie verlede
jaar het ek en Hettie soos ons gewoonte was maar op die bed gaan lê na aand tet
en tv kyk toe my maag weer ‘n draai maak en ek volstoom moes hardloop om die
badkamer te kon haal. En daar gebeur iets wat ons nie verwag het nie. Ek het ‘n
verlengings koord gebruik vir die krag, en daar hak my een voet vas daaraan en
ek val. Ek het toe wel die badkamer gehaal, maar ek kon voel iets was nie
lekker nie. Toe ek so sukkel sukkel in die kamer kom het ek vir Hettie gesê of
my linker knieg, heup of been is gebreek want dit was baie seer.
Die volgende oggend het sy
ons seun gevra om ‘n draai by ons te maak om my te help en toe ek my gewig op
die linker been sit, toe is hy net weg. En daar val ek tussen die bed en die
bedkassie in, rug eerste. Ek het toe maar die dag gelê en die Sondag ook. Ons
seun het toe Maandag by my gebly sodat Hettie Cradock toe kon gaan om goed te
gaan kry daar, en toe kry ek net ‘n oproep uit Bloemfontein wat sê pa moet
klere pak, alles wat hy kan want ek en Hettie trek nou Bloemfontein toe. Net
terwyl ons klere en die goed wat ons nodig het om te oorleef by hulle in die
bakkie kan pas, dan is dit reg. So het ek drie ure later by haar in die bakkie
geklim en was ek nog nooit weer terug soontoe nie. Hettie het wel gehelp met
die finale trek in Maart maar ek is net aangesê ek bly.
Die x-strale het toe die
probleem gewys. Ek het in 1994 ‘n rug fusie gehad na ‘n motor ongeluk en met
die val het ek die fusie gebreek en het die ou probleem van die senuwee wat
vasgeknyp word tussen L4 en L5 weer kop uit gesteek. Daar is toe ‘n plastiek
stoel in ons, (gaste kamer), stort gesit waarop ek kon sit terwyl ek stort. En
net om dit toe te vererger, die vierde dag in Bloemfontein toe ek van ons bed
af loop stort toe, seker letterlik twee meter, gee my linkerbeen weer pad en
val ek met my pelvis op die rand van die trappie van die kamer na die badkamer.
Die volgende x-strale lyk S1 asof dit hierdie pragtigste albaster klip is,
soveel krake was daar. Maar dit wys toe dat die osteoporose ook deel van my
probleem is en nie net die rumatoïede artritis nie.
Maar toe kom die grootste
skok. Op die CT skandering wys dit niks nie, maar op die MRI vind hulle toe dat
L4 en L5 in ‘n NET kanker uitsaaiing gehul is Dit is ook moontlik dat die gewas
na s0 ook insluit, of ‘n gedeelte daarvan. Dit is nou die begin van jou
bekkenbeen. So na seker 7 of 8 weke in die hospitaal tydens twee besoeke sodat
alles goed voorberei kon word en die gevegte tussen die snydokters wat die
gewasse in die buik en lewer wil bykom, en die spinale dokters wat die rug wil
regkry en die onkoloë wat wil weet wat aangaan en dalk met ‘n redelike nuwe
behandeling, PRRT, wil probeer, loop ek rond met ‘n karretjie wanneer ek weet
ek nie veel gaan loop nie of ‘n rystoel indien ek wel lank in ‘n winkelsentrum
gaan wees, of met niks of my kierie by die huis.
En regmaak van die rug? O my
been gehalte is nie goed genoeg nie, so dit lyk of die fusie maar gaan bly soos
hy nou is. Dit is nou tydens die laaste hospitalisasie uitgevind. So net drie
weke daar gelê vir niks. Die beteken die linkerbeen “slaap” heeltemal maar hy
dra darem nou my gewig altyd, of so 80% daarvan, die een spier in die bobeen is
soos ‘n snaar voltyds gespan en hy raak baie vinnig moeg. Dan is die regterbeen
van die knieg af onder toe ook aan die “slaap” en raak die voetsool dood. Dit
is asof ek op sneeu met kaal voete geloop het en die voet sole gevries is,
behalwe dat hulle baie warm is. Dan is daar so ‘n gedeelte tussen die enkel en
die knieg wat altyd koud is, en dit is die geval met albei bene. Dan vat alles
amper maande om gesond te raak in daardie gedeelte want ek dink maar die koue
is as gevolg van min bloed wat daar deur kom aangesien my voete kan sweet, en
die bene nog steeds yskoud is. Dit sal ek hopelik meer van uitvind volgende
maand. Ek het my maermerrie so ‘n maand terug seer gemaak en dit het eers
Sondag die week, so 5 weke later, heeltemal toegegroei. En dit was net ‘n
skrapie wat gebloei het. Maar dan weet ek ook dat daar seker net 50% bloed deur
die gewas toegelaat word om na die onderlyf toe te gaan, so die liggaam veg
maar hard.
En die res? Wel ek moet
Dinsdag die tweede Februarie gaan vir my Octreotite skandering en dan sal ons
hopelik kan sien waar orals is daar gewasse. Die skandering word gedoen deur
die radiologie afdeling deurdat hulle Octreotide wat ‘n kern medikasie is,
ingee om te drink, dan moet ek so ‘n paar ure wag, ek dink dit is twee ure, dan
doen hulle die eerste skandering en dan na nog twee ure neem hulle ‘n tweede
skandering.
Dan sal ons nou sien of L4
en L5 wel in ‘n nuwe gewas is, en dan sommer uitvind waar almal is. Ek weet nou
nie hoeveel is in die buik en lewer nie maar dit is ‘n hele paar saam met nog
limf nodes , maar die skandering sal hopelik almal vir ons wys.
So ek sal maar laat weet wat
verder gebeur na die 2e Februarie se storie.