Friday, 13 January 2023

Begin van 'n nuwe jaar met nuwe uitdagings.

 

  Vrydag 12 Januarie 2023

En so het 'n nuwe jaar alweer begin. Ek moet vandag  bieg dat hierdie siektes van my met my woer-woer gespeel het die afgelope klompie jare. Na die eerste Carcinoid aanval in Jeffreysbaai wat vir my beteken het dat ek maar my werk moes los en begin om af te tree, het die ou kanker my nogal oorheers aangesien ek geweet het hoe ernstig die tipe kanker kan wees en het ek enige verswakking maar daaraan toegeskryf. Vandag leef ek maar met basies voltydse Carcinoid Sindroom so dit oorheers maar alles wat ek kan doen. Waar ek vroeër nog elke dag die tuin kon natgooi en bietjie buite sit terwyl ek ‘n vleisie braai, moes Hettie maar die tuin heeltemal oorneem behalwe die goed wat ek maar altyd van saad gekweek het. Al die Clivias, Oranje rivier en Natal lelies hierdie jaar. Maar nou moet ek erken dat daar iets anders is wat meer slu is as die kanker en jou kan laat glo dat dit die kanker die rede is sonder dat jy enigsins iets anders verwag. Al staan dit in jou verslae van ander spesialiste, kyk jy dit mis want jy wil weet hoe hierdie kanker versprei en waar dit oral is. Ek het hier ‘n stukkie ingelas wat ek al vyf jaar gelede na ‘n ondersoek gekry het in die verslag maar my houding was maar net ek is bewus daarvan maar dit kan ons later oor besluit wat om te doen. Die simptome en gevolge van die siekte het ek aan die NETkanker toegeskryf.

In die verslag word daar telkens verwys na “degenerative changes of the spine”. So daar is verwys dat die rug se beenstruktuur besig is om te verander en dat daar aandag aan bestee moes word. Ek moet sê ek het die hele tyd maar gaan kyk waar uitsaaiings was maar nie veel aandag gegee aan die osteoporose nie aangesien ek geweet het die ou been struktuur is maar nie baie goed nie. Wat ek wel oor gepla was so nou en dan was so ‘n steek hier gelyk met die regter nier en dat my voetsole van albei maar meestal op die regter voet so nou en “geslaap” het. Ek het die maar afgeskryf as die gewas wat deur die gedeelte van die gewas toegeskryf wat besig is om my bloedtoevoer af te sny. So nie gedink dat dit die 25 jaar + se rug fusie is wat besig is om uitmekaar te val nie. So dit het gebeur met my val vroeg in 2021. Maar wat gebeur het hier is dat die gewas saam met die aar na die ruggraat toe versprei het en toe vir hom ‘n nuwe huisie gebou het so om die vorige fusie van die L en S reeks werwels.

So hierdie slu osteoporose was toe al die tyd die rede dat ek minder beweeg saam was, dat ek toe maar later met ‘n kierie geloop het en dit vir my moeilik was om op sekere tipe stoele te sit, veral die wat so lekker laag is. Wanneer ek daarop gaan sit het moes Hettie of iemand maar net anker speel dat ek myself weer mooi regop kan kry om te staan.

So ek maak nie verskoning vir feite wat ek dalk verkeerd het in my blog nie, maar het nie geweet dat osteoporose ook so kan wegkruip nie.

So nou moet ons maar soek om ‘n uitweg te kry om die kussing wat die senuwees vasknyp reg te kry sonder om een van die hoof senuwees raak te sny. Dit was nou September se missie.

En wat het gebeur. Niks. Na drie weke in die hospitaal en nog reekse CT scans en MRI’s is daar besluit hulle kan my nie verder help nie, en is ek ontslaan. Ek is maar terug na onkologie want toe het die hardlywigheid begin oorhand kry en na ‘n paar besoeke is ek nou op medisyne wat my stoelgang mooi loperig hou sodat dit kan deurkom en in die aande trek ek maar los met skote wat klap dat ek dink ek is weer in die weermag en ek is by die skietbaan. Party winde is kort en kragtig en ander het weer langasems maar gelukkig kry ek darem iets om my te laat slaap maar ons kamer kan maar nogal ‘n goeie reuk hê in die oggende. Ek kan ook net op my regter sy lê sodat alles se gewig wegkom van die dikderm en die winde kan uitkom. Gelukkig slaap ons op aparte beddens wat ons vroeër teen mekaar gestoot het en as ‘n konings grote bed gebruik het, maar nou van mekaar geskei het sodat ek my winde maar muur toe kan stuur. En daar is ook darem lugverfrisser wat ons by die dosyne gebruik.

Maar met die begin van 2023 weet ons nie wat gaan gebeur nie. My seun se skoonpa is op 30 Desember  2022 oorlede na hy net ‘n oomblikkie op die bed wou gaan lê het. Maar dit kan nou snaaks klink dat ek nie graag wil gaan lê in die dag nie en elke oggend opstaan om ontbyt te maak, te stort en aan te trek. Daar gaan net te veel mense in hulle beddens dood en ek wil nie nou al gaan nie. Ek het nog te veel video’s om te maak voor ek reg gaan wees daarvoor. En nou het ek nog my baard so ‘n paar happe gesny so dit gaan nou so twee weke vat om uit te groei voordat ek weer voor die kamera gaan inskuif.

So vandag loop ek maar met krukke indien dit ‘n kort afstand is, so tot en met 50 meter, binne die huis sonder hulp maar nou ons plek is maar bitter klein na wat ons gewoond was, ek dink die verste plek is van die “groot” rekenaar na die toilet en dit is so 8 meter uit mekaar, en ander afstande maar in my rystoel. So verwag maar redelik baie nuwe of hersiene uitgawes van dit wat ek die afgelope 20+ jare geskryf het, en dan gaan ek probeer om dit alles as video’s bekend te stel. So ek het klaar die Youtube skakel gedoen en is nou besig met die eerste artikel wat ek weet baie mense gaan kwaad maak of gelukkig gaan maak, maar die groep wat gelukkig gaan wees gaan maar min wees. En dit gaan maar oor wie of wat die Antichris is, en gebruik ek twee persone wat baie hoë plekke beklee binne Christenskap om vir ons te wys wat is reg en wat is verkeerd. Dit is maar na aanleiding van sovele mense wat nou skielik met hul vuil wasgoed uitkom, en mense wat maar net daar is om geld uit mense te maak. Maar ek vra maar net dat jy die logika sal verstaan en dan val alles verder in plek. Maak net seker dat jy die verskil tussen ‘n belofte, gelofte, en verbond verstaan. En daarvoor het jy nie Grieks, Latyn of Hebreeus nodig nie. Gelukkig het ek ek 'n voorvader wat ook 'n Erasmus was, Desiderius Erasmus, en hy het die Bybel in Latyns vertaal en dit is wat gelei het tot die reformasie met Luther en Calvyn. So ek kon toe ook 'n artikel skryf oor wat die verskille is en kan hier na gekyk of afgelaai word.

So tot volgende keer. Vertrou op die HERE en Hy sal sorg vir alles. En geniet die volgende lied wat in Acapella gesing word deur Pentatronix. 

https://www.youtube.com/watch?v=LRP8d7hhpoQ